My Geliefde Profeet

Die reis Mekka – Tâ’if

Met die voorneme om in die maand Dhu’l-hijja van die volgende jaar terug te kom, het hulle ons Profeet toestemming gevra om na hulle land terug te keer, en afskeid geneem. Hierdie ses nuwe Moslems was: ‘Uqba ibn ‘Âmir, As’ad ibn Zurâra, ‘Awf ibn Hârith, Râfi’ ibn Mâlik, Qutba ibn ’Âmir en Jâbir ibn ’Abdullah (radiyallâhu ’anhum).1

Toe die ses wat Moslems geword het, in Medina by hulle volk terugkom, het hulle dadelik oor Islam en oor ons Profeet begin vertel en die volk opgeroep om tot die godsdiens van Islam toe te tree. Hulle het so ver daarin gegaan dat daar in Medina geen huis meer was waar daar nie oor ons Profeet en Islam gepraat is nie. So het Islam onder die stam Khazraj versprei, en ook ’n paar mense van die stam Aws het Moslems geword.

Die uitnodiging van die mense van Tâ’if tot geloof

Hoewel die afgodedienaars baie wonderwerke van ons geliefde Profeet gesien het, het hulle uit koppigheid nie geglo nie; boonop het hulle aangehou om hulle kinders, broers, bloedverwante en vriende wat Moslems geword het, te kwel en te onderdruk. Hierdie al hoe harder onreg en martelinge het ons geliefde Profeet baie bedroef. Die gedagte het by hom opgekom om na Tâ’if, naby Mekka, te gaan en die bevolking daar na Islam te roep. Daarom het hy Zayd ibn Hâritha saamgeneem en na Tâ’if gegaan.

Met die seuns van ’Amr – ’Abdu Yâlîl, Habîb en Mas’ûd –, wat tot die vooraanstaandes van Tâ’if behoort het, het hy gepraat. Islam het hy aan hulle verduidelik, en hy het hulle gevra om in Allâhu ta’âlâ te glo. Hulle het nie net nie geglo nie, maar hom boonop beledig en gesê: “Kon Allâhu ta’âlâ niemand anders as jy kry om as profeet te stuur nie? Is Allâhu ta’âlâ nie in staat om iemand anders as jy as profeet te stuur nie? Gaan weg uit ons land en gaan waarheen jy wil!… Jou volk het nie aanvaar wat jy sê nie, en daarom het jy hierheen gekom, nie waar nie? Ons sweer dat ook ons ver van jou af sal bly. Ons sal nie een van jou versoeke aanvaar nie.”

Ons Meester Rasûlullah (sallallâhu ’alayhi wa sallam) het bedroef van hulle af weggegaan. Tien dae, of ’n maand lank, het hy die stam Thaqîf na Islam geroep, maar nie een van hulle het geglo nie; boonop het hulle met hom gespot, hom gekwel en hom uitgejou. Hulle het kinders en jongmense langs die paaie waar hy sou verbykom, opgestel, hom met klippe laat bestook en hulle teen hom opgehits. Zayd het van sy eie liggaam ’n skild teen die klippe gemaak wat die jongmense van Tâ’if gegooi het, en probeer verhinder dat ons Profeet iets oorkom. Zayd het onophoudelik om ons geliefde Profeet gedraai en alles gedoen wat hy kon, sodat die klippe hom nie tref nie. Sodat sy geseënde liggaam geen kwaad oorkom nie, het hy hom nie gesteur aan die klippe wat hom self getref het nie. Het hy nie juis op ’n geleentheid gewag om in dae soos hierdie sy lewe te gee nie? Nou het hulle die Meester van die wêrelde met klippe bestook en probeer om hom met kwellinge en martelinge uit hulle land te verdryf.

Hoe meer Zayd na regs en na links gehardloop het om ons Meester die Profeet te beskerm, hoe meer het die klippe sy kop, sy liggaam en sy voete getref, die een ná die ander. Daardeur was Zayd oral onder die bloed. Alles wat hy gehad het, het hy gegee om sy geliefde Profeet te beskerm, en hy het so hard as wat hy kon vir die wreedaards wat klippe gooi, geskreeu: “Hou op!… Moenie slaan nie!… Dit is die Meester van die wêrelde! Dit is Rasûlullah!… Kap my liggaam aan stukke, maar laat geen kwaad ons Profeet oorkom nie!…” Die klippe wat verby Zayd ibn Hâritha ons Meester Rasûlullah bereik het, het die geseënde voete van ons Meester laat bloei.

Bedroef, moeg en gewond het ons geliefde Profeet die wingerd van twee broers, ’Utba en Shayba genaamd, genader. Daar het ons Meester Rasûlullah, vir wie al die gelowiges hulle lewe wil gee, die bloed afgevee wat van sy geseënde voete gestroom het.

Ná die wudû het hy onder ’n boom ’n gebed van twee rak’as verrig. Daarna het hy sy geseënde hande opgehef en sy Heer begin aanroep.

Die eienaars van die wingerd het dit dopgehou. Hulle het gesien wat ons Meester Rasûlullah oorgekom het, en was getuies van sy verlatenheid. Hulle medelye is gewek. Deur hulle slaaf, ’Addâs genaamd, het hulle vir hom druiwe gestuur. Toe ons geliefde Profeet die druiwe eet, het hy die basmala uitgespreek. Die slaaf wat die druiwe gebring het, was ’n Christen. Toe hy die basmala hoor, was hy verbaas en het gevra: “Ek is al jare hier en ek het van niemand sulke woorde gehoor nie. Watter woorde is dit?”

Rasûlullah het gevra: “Waar kom jy vandaan?” ’Addâs het gesê: “Ek kom van Nineve.” Rasûlullah het gesê: “Dan kom jy uit die land van Yûnus (’alayhis-salâm).” ’Addâs het gevra: “Hoe ken u Yûnus? Hier ken niemand hom nie.” Rasûlullah het gesê: “Dit is my broer. Ook hy was ’n profeet, net soos ek.”

’Addâs het gesê: “Wie so ’n mooi gesig het en sulke soet woorde spreek, kan nie ’n leuenaar wees nie. Ek glo dat u die Rasûl van Allah is.” Daarop het hy Moslem geword en gesê: “Yâ Rasûlallah! Jare lank was ek die slaaf van hierdie wreedaards, hierdie leuenaars. Hulle neem elkeen sy reg af. Hulle bedrieg almal. Hulle het geen enkele goeie kant nie. Om wêreldse goed te versamel en hulle begeertes te bevredig, deins hulle vir geen enkele laagheid terug nie. Ek het ’n afkeer van hulle. Ek wil saam met u gaan, die eer hê om u te dien, die teiken wees van die oneerbiedigheid wat die onkundiges en die dwase u sal betoon, en myself opoffer om u geseënde liggaam te beskerm.”2

Glimlaggend het ons Meester Rasûlullah gesê: “Bly nou by jou meesters! Oor ’n kort tydjie sal jy my naam oral hoor. Kom dan na my toe.”

“Hou op!… Moenie slaan nie!… Dit is die Meester van die wêrelde! Dit is Rasûlullah! Kap my liggaam aan stukke, maar laat geen kwaad ons Profeet oorkom nie!” Zayd ibn Hâritha (radiyallâhu ’anh)

Nadat hulle ’n rukkie uitgerus het, het hulle na Mekka vertrek. Toe Mekka nog twee dagreise ver was, het hy gesien dat ’n wolk vir hulle skaduwee gee. Toe hy aandagtig gekyk het, het hy begryp dat dit Jibrîl ’alayhis-salâm was. Hierdie gebeurtenis het ons geliefde Profeet later aan ons moeder ’Âisha Siddîqa vertel.

In “Sahîh-i Bukhârî” en in die “Musnad” van Ahmad ibn Hanbal word meegedeel dat ons moeder ’Âisha eendag gevra het: “Yâ Rasûlallah! Het u al ooit ’n dag beleef wat pynliker was as die dag van Uhud?” Ons Meester Rasûlullah het toe geantwoord: “By Allah, van jou volk het ek soveel kwelling verduur as wat ek selfs nie van die ongelowiges in die Slag van Uhud verduur het nie. Toe ek my aan Ibn ’Abdu Yâlîl ibn ’Abdu Kulâl voorgestel het (dit wil sê my profeetskap aan hom bekend gemaak en hom na die godsdiens uitgenooi het), het hy dit nie aanvaar nie. Met so ’n groot pyn het ek van hulle af weggegaan dat ek eers weer tot myself gekom het toe ek die plek bereik wat Qarn ath-Tha’âlib heet. Daar het ek my kop opgelig. Ek het gesien dat ’n wolk sy skaduwee oor my gooi. Ek het gekyk, en in die wolk het Jibrîl (’alayhis-salâm) gestaan. Toe het hy my geroep en gesê: ‘O Muhammad! Haqq ta’âlâ het gehoor wat u volk oor u gesê het. Hy weet ook dat hulle u nie wou beskerm nie. Hy het hierdie engel, wat oor die berge aangestel is, na u gestuur, sodat u hom kan beveel wat u ook al wil.’ Ook daardie engel het my geroep, my gegroet en gesê: ’O Muhammad! Soos Jibrîl gesê het, het Haqq ta’âlâ my, die engel van die berge, na u gestuur, sodat u my kan beveel wat u ook al wil. Ek is tot u beskikking. As u wil hê dat hierdie twee steil berge (die berg Qu’ayqi’ân en die berg Abû Qubays) hulle oor die Mekkane sluit en mekaar raak (en die afgodedienaars heeltemal verpletter), beveel dit dan, en ek bring hulle bymekaar.’ Ek het nie daarmee ingestem nie en gesê: ’(Nee! Ek is as barmhartigheid vir die wêrelde gestuur.) Ek doen ’n smeekbede dat Allâhu ta’âlâ uit die nageslag van hierdie afgodedienaars ’n geslag laat voortkom wat net Janâb-i Haqq aanbid en niks as vennoot aan Allâhu ta’âlâ toeken nie.’”

Toe ons Meester die Profeet van Tâ’if na Mekka teruggekeer het, het hy ’n kort tydjie uitgerus by die plek wat Nakhla heet. Op ’n sekere oomblik het hy in gebed gestaan. ’n Groep van die jinn van Nusaybîn wat daar verbygekom het, het die verse van die Qur’ân al-karîm gehoor wat ons geliefde Profeet voorgelees het, en hulle het bly staan en geluister. Daarna het hulle met ons Meester die Profeet gepraat en Moslems geword. Ons Meester die Profeet het vir hulle gesê: “Wanneer julle by julle volk aankom, bring dan ook my oproep tot die geloof aan hulle oor. Roep ook hulle tot die geloof.”

Toe daardie jinn na hulle volk gegaan en dit bekend gemaak het, het al die jinn wat dit gehoor het, tot geloof gekom.3 Dit word in die Qur’ân al-karîm, in soera al-Jinn, meegedeel, en in die beroemde boeke van hadîth sharîf wat “Bukhârî” en “Muslim” heet.

Toe hy Mekka nader, het die gelowiges vir ons Meester Rasûlullah laat weet: “Die Quraysh het gehoor hoe sleg die laaghartiges van Tâ’if u behandel het. As u nou kom, kan hulle hulle onreg nog vergroot.” Toe ons Meester die Profeet by Hirâ aankom, het hy iemand na Suhayl ibn ’Amr gestuur met die versoek om hom onder sy beskerming te neem. Toe daardie ongelukkige weier, het hy dieselfde versoek aan Mut’im ibn ’Adiyy gerig. Dié het die versoek aanvaar. Habîb-i akram en Nabiyy-i muhtaram het onder die beskerming van Mut’im ibn ’Adiyy na Mekka gekom. Mut’im het dit aan die Quraysh bekend gemaak. Rasûlullah het die tawâf om die Bayt ash-Sharîf verrig en die Hajar al-Aswad gesoen. ’n Paar dae later het hy vir Mut’im gesê: “Ek bly nie langer onder jou beskerming nie.” Ook dit het Mut’im aanvaar. Janâb-i Haqq het Sy Habîb onder Sy eie hoede geneem.

Sê “Lâ ilâha illallâh” en word gered

Die Rasûl ’alayhis-salâm het aangehou om die mense na die ware weg te roep. Hierop het die afgodedienaars weer alle perke oorskry en nog meer as voorheen begin martel en onreg pleeg. Daarop het Janâb-i Haqq ons Meester die Profeet beveel om in die tyd van die besoek aan die Ka’ba met die Arabiese stamme wat kom besoek het, te praat en hulle na Islam te roep. Op hierdie bevel het ons geliefde Profeet na die jaarmarkte van Dhu’l-Majâz, ’Ukâz en Majanna begin gaan, wat in die omgewing van Mekka gehou is.

Dikwels het hy daarheen gegaan en die stamme na die eenheid van Allâhu ta’âlâ en na Sy aanbidding geroep, en gesê dat hulle moes aanvaar dat hy ’n profeet is. Ook het hy bekend gemaak dat Janâb-i Haqq die Paradys aan hulle sou gee as hulle dit aanvaar. Ongelukkig het niemand aan hierdie oproepe, wat ons Meester die Profeet byna smekend gedoen het, gehoor gegee nie; sommige het grof opgetree en hom beledig, ander het ’n suur gesig getrek en lelike woorde gespreek. En die afgodedienaars van die Quraysh het hom gevolg en die stamme by wie hy gekom het, teen hom opgehits.

Volgens wat imam Ahmad, Bayhaqî, Tabarânî en Ibn Ishâq meegedeel het, het Rabî’a ibn ’Abbâd oorgelewer: “Ek was jonk. Saam met my vader het ek na Minâ gegaan. Die Rasûl ’alayhis-salâm het na die plekke gegaan waar die Arabiese stamme kamp opgeslaan het, en gesê: ‘O seuns van so-en-so! Ek is die rasûl van Allâhu ta’âlâ, wat julle beveel om hierdie afgode wat julle aanbid, weg te gooi en Allâhu ta’âlâ te aanbid sonder om enigiets as vennoot aan Hom toe te ken, in my te glo en my te bevestig, en my te beskerm totdat ek die taak waarmee ek deur Haqq ta’âlâ gestuur is, verduidelik en vervul het!…’

Agter hom het ’n skeelkykende man met gevlegte hare geloop, wat gesê het: ‘O seuns van so-en-so! Hierdie man wil julle van die aanbidding van ons afgode Lât en ‘Uzzâ weerhou en roep julle na ’n godsdiens wat hy self versin het!… Pas op! Moenie na hom luister nie en moenie hom gehoorsaam nie!…’ Ek het my vader gevra: ‘Wie is daardie man wat hom volg?’ Die antwoord was: ‘Dit is sy oom Abû Lahab.’”

Tabarânî het van Târiq ibn ’Abdullah oorgelewer: “Ek het die Rasûl ‘alayhis-salâm op die jaarmark van Dhu’l-Majâz gesien. Sodat die mense hom kon hoor, het hy met ’n harde stem geroep: ‘O mense! Sê “Lâ ilâha illallâh” (daar is geen god nie behalwe Allâhu ta’âlâ) en word gered!’ Iemand wat hom gevolg het, het die klippe wat hy in die hande gekry het, na sy voete gegooi en gesê: ‘O mense! Moenie hom glo nie!… Pas op vir hom! Want hy is ’n leuenaar!…’ Die klippe wat hom getref het, het sy geseënde voete laat bloei, maar hy het steeds onvermoeid en onverskrokke met sy oproep voortgegaan. Hulle het gevra: ‘Wie is hierdie jong man?’ Iemand het geantwoord: ‘’n Jong man van die seuns van ‘Abdulmuttalib.’ Toe hulle vra: ‘En wie is die een wat met klippe gooi?’, het hy gesê: ‘Dit is sy oom Abû Lahab.’”

Imam Bukhârî vermeld in sy “at-Târîkh al-Kabîr” en Tabarânî in sy “al-Mu’jam al-Kabîr”: Mudrik ibn Munîb het van sy vader oorgelewer, en dié van sy grootvader, dat hy gesê het: “Ek het saam met my vader na Minâ gekom, en ons het daar kamp opgeslaan. Ons het ’n groep mense teëgekom. Iemand het vir hulle gesê: ‘O mense! Sê Lâ ilâha illallâh en word gered!’ Van die mense rondom hom het sommige in sy mooi gesig gespoeg, ander het grond op sy kop gestrooi, en nog ander het hom vervloek en op allerlei maniere beledig. Dit het so aangehou tot die middag. Op daardie oomblik het ’n meisie met ’n kruik water in die hand gekom. Toe sy hom in daardie toestand sien, het sy begin huil. Nadat hy die water gedrink het, het hy hom tot die meisie gewend en gesê: ‘O my dogter! Moenie bang wees dat jou vader in ’n strik gelok en gedood of verneder sal word nie!’ Daarna het ons die mense wat daar was, gevra: ‘Wie is hierdie man en wie is daardie meisie?’ Hulle het gesê: ‘Dit is Muhammad, van die seuns van ‘Abdulmuttalib, en die meisie langs hom is sy dogter Zaynab.’”

“Dit is my broer (Yûnus ’alayhis-salâm). Ook hy was ’n profeet, net soos ek” Hadîth sharîf

Sa’îd ibn Yahyâ ibn Sa’îd Umawî het in sy “Maghâzî” van sy vader oorgelewer, en dié van Abû Nu’aym en van ’Abdurrahmân ’Âmirî, en ’Abdurrahmân ’Âmirî van baie ander. Hulle het gesê: Eendag het ons geliefde Profeet (sallallâhu ’alayhi wa sallam) na die jaarmark van ’Ukâz gegaan. Na die stam Banû ’Âmir het hy gegaan en hulle gevra: “O Banû ’Âmir! Hoe beskerm julle dié wat by julle toevlug soek?” Hulle het geantwoord: “Niemand kan ons ’n hatige woord toesmyt nie, niemand kan hom sonder ons medewete by ons vuur warm maak nie!…” Ons Meester die Profeet het gesê: “Ek is die rasûl van Allâhu ta’âlâ. As ek by julle kom, sal julle my dan beskerm totdat ek die taak van die profeetskap wat my Heer aan my gegee het, aan die mense oorgedra het?” Hulle het gevra: “Tot wie van die Quraysh behoort jy?” Toe ons Meester sê: “Tot die seuns van ’Abdulmuttalib,” het hulle gesê: “As jy tot die seuns van ’Abdulmuttalib behoort, waarom beskerm hulle jou dan nie?” Ons Meester Rasûlullah het gesê: “Juis hulle was die eerstes wat my vir ’n leuenaar uitgemaak het.” Die groep van die Banû ’Âmir het gesê: “O Muhammad! Ons wys jou nie af nie, maar ons glo ook nie in wat jy gebring het nie. Tog sal ons jou beskerm totdat jy die taak van jou profeetskap aan die mense oorgedra het.”

Daarop het ons Meester die Profeet by hulle gaan sit. Op daardie oomblik het Bayhara ibn Fâris, een van die vooraanstaandes van die Banû ’Âmir, wat sy inkopies op die jaarmark gedoen het, na hulle gekom; hy het na ons Meester die Profeet gewys en die aanwesiges gevra: “Wie is dit?” Hulle het gesê: “Dit is Muhammad ibn ’Abdullah.” Toe Bayhara sê: “Wat het julle met hom te doen, dat julle hom by julle laat sit?”, het hulle geantwoord: “By ons het hy toevlug gesoek; hy sê dat hy die rasûl van Allah is en vra ons om hom te beskerm totdat hy die taak van die profeetskap aan die mense oorgedra het.” Daarop het Bayhara hom tot ons Meester die Profeet gewend en gesê: “As ons jou gaan beskerm, beteken dit dat ons ons bors as teiken vir die pyle van al die Arabiere aanbied.” En vir sy volk het hy gesê: “Daar is geen stam wat met iets ergers na sy land terugkeer as julle nie. Julle wil dus oorlog voer met al die Arabiere en julle liggame ’n teiken vir hulle pyle maak!… As sy eie volk iets goeds in hom gesien het, sou hulle hom self eerste beskerm het. Julle wil iemand skuiling en hulp gee wat deur sy eie volk vir ’n leuenaar uitgemaak en verjaag is!… Julle dink heeltemal verkeerd!…”

Daarna het daardie ellendeling hom tot ons geliefde Profeet gewend en gesê: “Gaan onmiddellik van ons af weg en keer terug na jou volk!… Ek sweer dat ek jou, as jy nie te midde van my volk was nie, nou dadelik die kop sou afslaan!…” Ná hierdie woorde het die Meester van die wêrelde diep bedroef op sy kameel geklim. Daardie onbeskaamde Bayhara het ons Meester Rasûlullah van sy kameel afgegooi. ’n Vrou van die Metgeselle, Dabâ’a bint ’Âmir genaamd, wat die voorval gesien het, het uitgeskreeu en haar bloedverwante geroep: “Hoe kan julle toelaat dat dit aan die Habîb van Allâhu ta’âlâ gedoen word? Is daar niemand wat ter wille van my Rasûlullah uit hulle hande red nie?” Drie van haar neefs het onmiddellik op die ongelukkige Bayhara afgestorm. Twee manne van Bayhara se volk wou hom help, maar die ander het Bayhara en sy helpers deeglik toegetakel. Ons geliefde Profeet, wat dit dopgehou het, het vir die drie wat vir hom geveg het, die smeekbede gedoen: “O my Heer! Skenk aan hulle U seën!”, en vir Bayhara en sy helpers: “O my Heer! Verwyder hulle uit U barmhartigheid!”

Diegene vir wie hy ’n goeie smeekbede gedoen het, is met Islam vereer, en die ander het as ongelowiges die gees gegee. Toe die lede van die stam Banû ’Âmir na hulle land teruggekeer het, het hulle aan ’n ou man van hulle stam wat die hemelse boeke gelees het, vertel wat hulle in Mekka oorgekom het. Toe daardie man die naam van ons Meester die Profeet hoor, het hy hulle verwyt: “O Banû ’Âmir! Wat het julle gedoen? Niemand van die seuns van Ismâ’îl het tot nou toe valslik op die profeetskap aanspraak gemaak nie. Wat hy gesê het, was beslis waar en die waarheid. Hierdie gemiste kans is nou baie moeilik om goed te maak!…”

Terwyl hy woorde met Jibrîl gewissel het,
Het die Rafraf voor hom verskyn en hom gegroet.
Dit het toe die Vors van die wêreld saamgeneem
En hom op daardie oomblik na die Sidra gebring.

“O mense! Sê Lâ ilâha illallâh en word gered!” Hadîth sharîf

Isrâ en Mi’râj